Dagstukkies met Dennis 23 September 2019

September 23, 2019

23 SEPTEMBER 2019

1 Petrus 3:3-4:  #Skoonheid

Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie.  Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees; blywende beskeidenheid en kalmte van gees.  Dit het by God groot waarde.”

Die mens is geneig om na die uiterlike skoonheid te kyk en dan so ‘n oordeel te fel. Dit gebeur met die beste van mense.  In die Bybel het dit met die profeet, Samuel, ook gebeur. Die Here het hom na die huis van Isai gestuur om vir Hom ‘n koning te gaan salf. 1 Samuel 16:7 verklaar: “Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want die mens sien wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.”

Spreuke 31:30 verklaar: “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid.” Wanneer ons 1 Petrus 3:3 in perspektief lees, dan sê die Woord nie dat die versiersel, omhang van goud en aantrek van klere verkeerd is nie, maar dit moet nie ‘n afgod word nie, want dit wat uiterlik is, sal verby gaan; dit sal vergaan.

Die skoonheid van binne is blywend, dit oortref die uiterlike skoonheid, want dit wat van binne is openbaar die eintlike skoonheidseienskappe. Daarom moet die mens gebruik maak van daardie onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees uit die hart. 1 Petrus 3:4 verklaar: “Maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.”

Vrede / Shalom