Dagstukkies met Dennis 21 Mei 2019
Mei 21, 2019
Kolossense 3:13-15: #Vriendskap
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klagte het; net soos die Gesalfde Een julle vergeef het, so moet julle ook vergewe. Saam met dit alles trek die liefde aan wat die band tot volmaaktheid is en die vrede van die Gesalfde Een sal julle verstand, wil en emosie beheer, waartoe julle geroep is in een liggaam en wees dankbaar teenoor die Gesalfde Een.”
Wat ‘n kragtige bemoediging vir die volk van Kolossense om die band van die volmaaktheid bo alles te beklee. Tereg sê Paulus verdra en vergewe mekaar, want niemand is volmaak nie, so maklik kan die vyand verwarring en misverstande veroorsaak; wat ‘n lang vriendskap in ‘n ommesientjie se tyd kan vernietig. Daarom wys Paulus die kinders van die Here daarop dat as ons saam met Christus begrawe is, saam met Hom opgestaan het en Sy krag in ons lewe is, dan moet ons ruimte hê om mekaar te vergewe.
Opregte vriende sal ongeag watter omstandighede die waarheid praat, hulle sal jou vermaan en reghelp op hierdie weg van Godsaligheid. Hulle sal by jou staan al het almal jou verlaat. In jou omstandighede sal hulle saam met jou huil want jou verlies is ook hulle verlies. Ware vriende vergewe mekaar onvoorwaardelik. Paulus se pleidooi in Kolossense 3:15 is: “en die vrede van die Gesalfde Een sal julle verstand, wil en emosie beheer, waartoe julle geroep is in een liggaam en wees dankbaar teenoor die Gesalfde Een.”
Vrede / Shalom