Dagstukkies met Dennis 21 Maart 2019

Maart 21, 2019

21 MAART 2019

Jesaja 54:10:  #Belofte

“Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar My goedertierenheid sal van jou nie wyk en My vrede verbond sal nie wankel nie, sê die Here, jou ontfermer.”

In die 1953 vertaling is die opskrif van Jesaja 54 die volgende: “Die toekoms van Sion” en hier word van Sion verwag om te jubel. Die onvrugbare wat nie gebaar het nie. Dit te midde van die omstandighede word die toekoms van Sion voorspel.  Dawid slaan sy oë op na die berge in Psalm 121, en vra waar sal sy hulp vandaan kom.  Hy besef dan dat sy hulp kom van die Here wat die berge gemaak het. Jesaja 54:10 neem die woord van God nog verder en dieper, want al sou die berge wyk en die heuwels wankel, nogtans sal God se goedertierenheid nie wyk of wankel nie en Sy vrede verbond staan vas.

Dit is ‘n totale versekering, want wie kan die berge beweeg en die heuwels laat wankel behalwe Hy wat dit gemaak het. God verseker ons al sal die onveranderlike, verander, sal dit wat Hy beplan het vir Sy gunsgenote nooit wyk of wankel nie. In Psalm 46 word die versekering gegee dat al gee die aarde pad en al wankel die berge weg in die hart van die see, God is vir ons ‘n toevlug in ons benoudheid in hoë mate beproef.

Ons besef op nuut dat God se goedertierenheid is onwankelbaar en Sy vrede is nie soos die wêreld gee nie, maar Sy vredesverbond is ewigdurend.

Vrede / Shalom.