Dagstukkies met Dennis 19 September 2019

September 19, 2019

Sagaria 4:6:  #Krag

Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here.”

Baie keer tree die mens impulsief op in ‘n situasie en dan skiet ons kragte tekort en staan ons verslae in die nederlaag. In Eksodus 14:14 sê die Here vir Moses: “Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” Ons dien ‘n jaloerse God, Hy deel Sy eer met niemand nie, want wanneer God vir ons stry moet ons stil wees.  Hierdie sinsnede: “Nie deur krag of deur geweld nie…” Dit is wanneer ons in ons eie krag dinge wil regstel.

Psalm 127 se opskrif in die 1933-53 vertaling lees: Sonder die Here – alles tevergeefs. Daarom is dit belangrik om God in al ons planne te ken, sodat Hy ons paaie kan gelyk maak. Daarom sê die Woord: “….maar deur My Gees, sê die Here van die Leërskare.” God self sal vir jou die weg baan, Hy self sal jou lei in die spore van geregtigheid. Daarom moet ons toelaat dat Sy krag in ons swakheid volbring word deur die Heilige Gees wat ons lei, want net die wat deur die Gees gelei word is kinders van God.

Vrede / Shalom