Dagstukkies met Dennis 18 Maart 2019 Copy

Maart 18, 2019

18 MAART 2019

Jesaja 40:31:  #Belofte

“Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag, hulle vaar op met vleuels soos die van ‘n arend; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

Daar is een ding wat die mens nie wil doen nie, en dit is om te wag. Die woord wag is ‘n drie letter woord, maar daarvoor het ‘n mens somtyds baie geduld nodig. Die wagproses kan soms baie lank wees, maar van een ding is ons verseker – dat Sy woord is ja en amen. Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie, al het Hy tot Sy skade gesweer Hy verander nie.  In Israel se ballingskap gee die Here hulle ‘n woord van bemoediging: “Maar die wat op die Here wag kry nuwe krag….” Die geheim is om op die Here te wag. Die mens stel teleur en hulle belofte hou net terwyl jy hom nog sien, maar as jy op die Here wag sal jy opvaar met vleuels soos die van ‘n arend! Hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Dit is baie duidelik dat God ons in die hoogtes in wil vat en dieper in gemeenskap met Hom. Daar word vertel dat die arend is die enigste voël wat tot in die derde hemel kan vlieg. Wanneer die storm op sy ergste is dan gebruik die arend die strome om hom die hoogtes in te vat, sodat hy bokant die storm kan sweef.

God wil ons aanraak met Sy krag en sterkte sodat ons bokant die lewe se storms kan sweef. God is getrou in Sy belofte as ons op Hom wag,  sal Hy ons toerus met nuwe krag. 1 Korintiërs 1:27 sê: “……die wat swak is in die wêreld, het God uitverkies om die wat sterk is te beskaam.” Ons swakheid word in Sy krag volbring, want Hy gee aan die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte aan die wat geen kragte het nie.

Shalom, Vrede