Dagstukkies met Dennis 14 Mei 2019
Mei 14, 2019
Galasiërs 6:8: #Oestyd
“Hy wat in sy menslike natuur saai, sal vanuit die menslike natuur vernietiging oes, maar hy wat in die gees saai, sal vanuit die gees die ewige lewe oes.”
Apostel Paulus praat met die volk van Galasiërs op ‘n stadium dat hulle in die gees begin het, maar in die vlees geëindig het. Daarom spreek hy hulle sterk aan om die geestelike waardes te handhaaf.
Kolossense 3:2 verklaar: “Bedink die dinge wat daar bo is, en nie wat op die aarde is nie.” Die vlees bring voort vleeslike dinge en die Gees bring voort geestelike dinge. Daarom, hy wat in die vlees saai, sal in die vlees verderf maai, maar hy wat in die gees saai, sal in die gees die ewige lewe maai. Alles wat in die vlees gedoen word sal verbygaan, maar wat in die gees gedoen word sal bly staan.
Ons moet baie noukeurig daarop let dat ons nougeset handel volgens die insettinge en die verordeninge van God, om sodoende sterk in die gees te wandel om die ewige lewe te kan beërwe.
Vrede / Shalom