Dagstukkies met Dennis 14 Maart 2019

Maart 14, 2019

14 MAART 2019

Matteus 6:33: #Voorsiening

“Maar soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word.”

Die woord van die Here is baie duidelik in die verband want Spreuke 3:6 sê: “Ken My in al jou weë, dan sal Ek jou paaie gelyk maak.” God is baie gesteld daarop om Hom eerste te stel, want Hy is ‘n jaloerse God. Daarom in jou omstandighede, in jou behoefte, in alles wat jy doen moet ons Hom ken.

Matteus 6:33 sê: “Maar soek eers….” met ander woorde moenie eers ooral gaan help soek, en dan nêrens regkom, en dan die Here soek vir uitkoms nie. Ons moet God dus ons eerste prioriteit maak. Om dit te doen moet ons ons geloof in aksie sit, want die mens wil eers sy eie planne maak.

Spreuke 16:3 verklaar: “Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.” Ons leef in ‘n sondige wêreld, en kom te kampe met mense met bose planne, planne van ongeregtigheid. Daniël 1:8 verklaar: “En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met wyn wat hy gedrink het nie…”
Dit is ‘n ingesteldheid. Jy moet jou voorneem. Jy moet besluit God is eerste, dan die ander sake, want wanneer ons Sy Koninkryk eerste soek en Sy geregtigheid dan sal Hy voorsien in al ons behoeftes en tekortkominge. Al die ander dinge sal bygevoeg word.

Vrede / Shalom.