Dagstukkies met Dennis 13 September 2019

September 13, 2019

13 SEPTEMBER 2019

 Psalm 92: 12-14:  #Groei

Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.  Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God.”

Apostel Paulus skryf in sy brief aan Timoteus in 2 Timoteus 3:12: “En almal wat Godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Die veertiende vers sê: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het.”  Die Psalmis sê dan eintlik te midde van wat hom voorlê; kwaaddoeners wat teen hom opstaan, sy oog sal sien met welgevalle en sy oor sal hoor, maar die regverdige sal groei soos ‘n palmboom.  Hier maak die Psalmis gebruik van beeldspraak wanneer hy sê die regverdige sal groei soos ‘n palmboom.  Dit spreek van standvastigheid te midde van die omstandighede en die storms.  Dit is dan wanneer die wortels dieper afsak om die boom te anker en so moet die mens ook wees.

Verder moet ons wees soos die seder op die Libanon wat in moeilike omstandighede op moeilike plekke nog die liefde van Jesus kan uitstraal, want hierdie seders groei in die steil hellings waar hulle staan teen die wind en die weer, maar tog die mooiste grein gee. Daarom moet ons geplant wees in die huis van die Here en opgroei in die voorhowe.

Vrede / Shalom