Dagstukkies met Dennis 11 Maart 2019
Maart 11, 2019
2 Korintiërs 9.8: #Voorsiening
“En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.”
Groot en Almagtig is ons God wat magtig is om in elke behoefte van ons te voorsien. Spreuke 11:24 verklaar: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terug hou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” Die Bybel se beginsel is: Wat jy saai sal jy maai, gee en vir jou sal gegee word. Dit is belangrik om alles vir die Here te gee, sodat Hy dit kan seën. Dit sien ons in Matteus hoofstuk 14 met die eerste vermeerdering van die brode. Jesus vra wat het julle? Maar hulle antwoord Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee vissies.“ Vir die mens is dit ‘n onbesonne taak, want hoe kan ‘n mens van vyf brode en twee vissies omtrent vyf duisend manne, buiten die kinders en vroue, voed?
In Matteus 14:18-19 gebeur iets wat volgens die wetenskaplikes onverklaarbaar is: “En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit, en Hy neem die vyf brode en twee vissies, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare.”
Daar is ‘n lied wat sê: “Little become much when you place it in the Master’s hand.” Vers 20 verklaar: “En almal het geëet en versadig geword.’ God bevestig net weer dat Hy is ‘n waarmaker van Sy woord: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai, en wie volop saai, sal volop maai.”
Vrede / Shalom