Dagstukkies met Dennis 10 Mei 2019
Mei 10, 2019
Romeine 5:3-4: #Storms
“En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop.”
Watter wonderlike voorreg net om te weet dat ons deur die geloof geregverdig is en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. Dit is hier waar Apostel Paulus ons dan bewus maak: “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukking.” Baie keer wil ons net roem in die heerlikhede, daarom sê Jesus in die Bergpredikasie, Matteus 5:12 : “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele…” Dit wil sê te midde van die storms wat woed moet ons die Here loof, moet ons Psalmsing tot eer van sy Heilige Naam, want die verdrukking werk lydsaamheid. Jy leer om met geduld enige situasie te hanteer, sodat alles vir elkeen ten goede kan mee werk.
Deur lydsaamheid word jy op die proef gestel en leer om net op God te hoop. Daardie hoop wat Romeine 5:5 van praat wat nie beskaam nie. Die beproefdheid bring daardie hoop na vore, want al lyk die storm hoe donker, jy weet dat jy weet dat jy wèèt dat God sal deurkom vir jou. Dis daardie hoop wat nie kyk na die omstandighede nie, wat nie kyk na die prognose nie, wat nie luister na die diagnose nie, maar wat onwrikbaar hoop op die God van die onmoontlike, want ons weet die hoop beskaam nie.
Ons dank die Here wat alles op Hom geneem het, want die skuldbrief teen ons, wat met Sy insettinge ons vyandig gesind was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael- Aldus Kolossense 2:14.
Vrede / Shalom