Dagstukkies met CLF 9 Maart 2020

Maart 9, 2020

Gaan kerk toe

“Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite” (Psalm 84:11)

 

Die skrywer van hierdie Psalm sê dat dit vir hom lekker
is om in die tempel van God te wees. Want in die tempel
is God self teenwoordig. Daar ontmoet hy God. Daar
hoor hy God se Woord. Daar hoor God ons gebede en liedere. Hy voel tuis en veilig. Selfs die mossie en swaeltjie, wat hul nessies maak onder die dak van die tempel, voel daar veilig.

Die Here het Sondae vir ons gegee om rustig te wees. Om saam met ander gelowiges kerk toe gaan en saam na die Woord van God te luister en meer te leer van God: hoe lief Hy ons het, hoe mooi Hy vir ons sorg, en hoe Hy ons sonde vergewe. Ons bid en sing saam tot God, gee ons dankoffers en word versterk.

As jy deur ’n dorre, dors wêreld moet trek en jy ontdek skielik ’n fontein met helder, koel water, so is dit om kerk toe te gaan. Dis soos die vroeë reën na ’n droogte. Keer op keer kry mens daar nuwe krag.

Besluit sommer nou om Sondag kerk toe te gaan, om God daar te aanbid. Die ontmoeting sal so wonderlik wees; jy sal nie anders as om God te loof nie.

 

Heilige Gees, gee asseblief vir my die begeerte in my hart om Sondae saam met die gemeente kerk toe te gaan. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.