Dagstukkies met CLF 8 Junie 2020
Junie 8, 2020
Jesus se koms
“Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ’n oorwinnaar. Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie”
(Sagaria 9:9)
Sagaria het ongeveer 500 jaar voor die geboorte van Jesus gelewe. God het met hom as profeet gepraat
deur gesigte wat hy gesien het. So het God dan vir hom gesê dat hulle moet jubel en juig, want daar sal ’n koning kom wat ’n oorwinnaar sal wees. Dit was van Jesus wat hier gepraat word.
Die profeet het gesê dat die koning op ’n donkie sal ry. Ons weet dat Jesus wel op ’n donkie Jerusalem binnegery het. Ons lees in ons teksvers dat dié Koning, Jesus, nederig en regverdig was. Wanneer ons later na Jesus se lewe op aarde gaan kyk, sal ons sien dat dit alles waar was wat voorspel is.
Dit is vir jou en my ’n bewys dat God se Woord, die Bybel, waar is.
Waarmaker van u beloftes, dankie dat ek die Bybel kan lees wat waar en eg is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.