Dagstukkies met CLF 8 April 2020
April 8, 2020
Onthou vir Jesus
“Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort; die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet” (Spreuke 10:7)
Mense hou daarvan om oor ander mense te praat of te lees. Tydskrifte en koerante is vol stories oor mense se doen en late. As bekende mense iets sê of doen, maar veral as hulle skande maak, dan praat almal daaroor.
Elke dag het ons te doen met mense wat goed doen, ook met slegte mense. Ons hoor of ons lees van ’n persoon wat almal prys en goed van hom praat. So is daar ook mense wat lankal dood is, maar wat nog steeds onthou word as regverdige en goeie mense.
Aan die ander kant is daar ook baie mense wat verkeerd lewe. Hulle word baie gou vergeet. Ons wil mos nie graag aan slegte mense dink nie, maar dis lekker om aan iemand te dink wat reg volgens God se wil lewe.
Jesus is die een persoon wat ons nooit sal vergeet nie. Hy sorg vir ons, is regverdig, en het aan die kruis vir ons sondes gesterf. As Jesus nie gesterf het nie, was ons almal verlore mense.
Here Jesus, dankie dat U vir my gesterf het. Help my om U altyd te onthou. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.