Dagstukkies met CLF 7 November 2020

November 7, 2020

God se tyd

“Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het ek jou gehelp”. Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding”
(2 Korintiërs 6:2)

Ons weet almal dat tyd baie belangrik is. Daar is ’n sekere tyd wanneer ons soggens opstaan om betyds by die werk te kom. Kinders moet ook ’n sekere tyd by die skool wees. Die kerk begin ook Sondae op ’n bepaalde tyd.

God bepaal ook vir ons die regte tyd: nou is die tyd vir verlossing. Ook as ons bid en vir God iets vra, beantwoord Hy dit op die regte tyd. Soms wonder ons of God ons hoor as ons bid, want Hy antwoord ons dan nie dadelik nie. Moenie ophou om te bid en te glo nie, op God se tyd sal Hy antwoord.

Die Bybel leer ons dat God se tyd nie ons tyd is nie. Hy weet wanneer en wat ons nodig het. Hy weet wat die beste vir ons is, en Hy sal ons gebede altyd op die regte tyd verhoor.

 

Here Jesus, dankie dat U in beheer is van my lewe. Dankie dat U op die regte tyd vir my gee wat ek nodig het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.