Dagstukkies met CLF 7 Augustus 2020

Augustus 7, 2020

Bly by Jesus

“Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop”

(Matteus 26:56)

Jesus se vyande wou Hom gevange neem om Hom dood te maak. Hulle het nie geglo dat Hy die Seun van God is nie. Volgens hulle het Jesus teen God gelaster en die doodstraf verdien.

Judas, een van Jesus se dissipels, is omgekoop om Jesus te verraai. Toe Jesus deur die soldate gevang is, was die dissipels so bang dat hulle almal weggehardloop het.

Ons hardloop ook partykeer weg van Jesus. Wanneer iemand verkeerde dinge doen of sê, dan is ons te bang om hulle reg te help. Of as ons in die nood is en hulp nodig het, dan vergeet ons dat die Here daar is om te help.

Moenie weghardloop van Jesus af nie. Stap elke dag saam met Hom. Vertel vir ander mense hoe goed Hy vir jou sorg, sodat hulle ook vir Jesus kan leer ken.

 

Dankie Here Jesus, dat u altyd by my is. Help my om nooit van U af weg te hardloop nie. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.