Dagstukkies met CLF 7 April 2020
April 7, 2020
Ons mooi wêreld
“Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het, die mense was vir my ’n vreugde” (Spreuke 8:31)
In die Spreukeboek word wysheid besing. God self het wysheid geskep. Wysheid kom van God af. Wysheid sien mens in die wonderlike manier waarop God alles geskep het. Hoe alles in mekaar pas. Jy sien dit in die wette van die natuur, die sterre, die berge en vlaktes, die wolke en fonteine. In die vuur, water, lug en grond – die vier elemente wat nodig is vir lewe – sien mens God se wysheid. Jy sien dit in hoe God alles op hulle plek vashou, elke ster en elke klein goggatjie. Jy sien God se wysheid in elke saadjie in die grond wat begin lewe en groei en ’n plant word wat vrugte dra.
Maar die heel wonderlikste van alles wat God gemaak het, is die mens self. Dit was Hom baie lekker om die mens te maak en ons is kosbaar vir Hom.
Om God se wysheid in die natuur te ontdek, bring vreugde en verwondering. Dan kan mens nie anders as om God te loof en prys nie. Probeer om een keer per week, net vir ’n paar minute, stil te staan om die natuur, en mense, te bewonder. Dan besef ons hoe groot en wonderlik God is. Dan weet ons daar is maar net een God wat vir ons sorg, met wysheid.
Wonderlike Here, baie dankie vir ’n mooi wêreld waarin ek kan woon. Help my dat ek dit elke dag sal waardeer. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.