Dagstukkies met CLF 6 Oktober 2020
Oktober 6, 2020
Doen
“Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word” (Romeine 2:13)
Elke mens wil graag weet wat hy of sy mag doen en wat nie gedoen mag word nie. Ons ken die Tien Gebooie wat God aan die Israeliete gegee het. Daarmee wil God vir elke mens sê hoe Hy wil hê ons moet leef. As jy ’n tydjie het, gaan lees gerus weer Eksodus 20 of Deuteronomium 5. Jesus het natuurlik ook in Matteus 22 die wil van God opgesom in die wet van die liefde. As ons daardie wet van God nakom, en doen wat Hy vra, dan leef ons soos God se kinders.
In ons teksvers sê Paulus dat ons nie net van die wet moet hoor nie, ons moet ook doen wat die wet sê. Daar is baie mense wat weet waar die wet in die Bybel staan, en hulle weet ook wat daar geskrywe staan, maar hulle lewe nie volgens God se Wet nie. Ek en jy moet besef dat ons God se gebooie moet gehoorsaam, want ons is sy kinders.
Here, dit is my so moeilik om u wet te gehoorsaam. Vergewe my en help my om ’n beter kind vir U te wees. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.