Dagstukkies met CLF 6 Mei 2020
Mei 6, 2020
Wonderlike Woorde
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie” (Jesaja 54:10)
Hierdie woorde van ons teksvers is seker die mooiste woorde wat God nog vir sy kinders gesê het. Om te weet dat wat ook al gebeur, God bly vir ewig lief vir ons. So baie dinge gebeur met ons, baie kere stel ons God teleur, maar Hy bly getrou soos Hy belowe.
Hier op aarde gebeur baie tragiese dinge. Ons hoor van aardbewings, oorstromings, droogtes, orkane en nog baie ander natuurrampe waar duisende mense sterf. Dan is daar ook nog motorongelukke, vliegtuie wat val en bote wat sink, wat ook baie hartseer bring. Soms wonder ’n mens hoekom dit gebeur, en waar is God dan?
Gelukkig glo ons in ’n God wat van alles weet. Hy sorg vir elkeen en alles hier op aarde. Al is daar baie hartseer en verdriet, Hy sal ons as mense nooit vergeet nie, en sy liefde vir ons sal nooit verdwyn nie.
Dankie Here, dat U vandag vir my die versekering gee dat U liefde vir my nooit ophou nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.