Dagstukkies Met CLF 6 Februarie 2020
Februarie 6, 2020
Gehoorsaam aan God
“Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê”
(1 Konings 3:9)
Nadat Salomo koning geword het, het hy in Gibeon vir die Here ’n offer gebring. Ons lees dat hy duisend diere vir die Here geoffer het, omdat God hom so geseën het.
Daar in Gibeon het die Here een nag in ’n droom aan hom verskyn. God het hom gevra wat hy graag wil hê. Salomo vra toe dat God vir hom gehoorsaamheid sal gee, en insig, soos ons in die teksvers lees. Omdat Salomo nie rykdom of eer gevra het nie, het God hom sy lewe lank geseën en baie meer gegee as wat hy gevra het.
So moet ons ook wees. Vra vir die Here gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan die Here gee ware wysheid. En dan sal die Here ook al die ander dinge wat ons nodig het, vir ons gee.
Dierbare Vader, gee vir my gehoorsaamheid aan U. Dankie vir al die mooi dinge wat ek so onverdiend van U ontvang. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.