Dagstukkies met CLF 5 Oktober 2020

Oktober 5, 2020

God oordeel regverdig

“Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel”(Romeine 2:2)

Een van ons mense se swakste eienskappe is seker om ander te veroordeel. Dit is vir ons so lekker om ander se foute raak te sien, en hulle dan te kritiseer. Ons voel amper goed as ander mense verkeerde dinge doen, sodat ons dit kan veroordeel, so asof ons sonder sonde is.

Ek en jy wat kinders van die Here is, weet dat ons almal vol sonde is. Daarom kan ons niemand oordeel nie, net God alleen kan oordeel. Ons weet wanneer ons verkeerd doen, en dan kan ons net die Here vra om ons te vergewe.

In ons teksvers skryf Paulus aan die Romeine dat God regverdig sal oordeel oor mense wat verkeerd optree. Uit hierdie gedeelte moet ons leer om vir die Here te vra om ons sondes te vergewe. Doen ons dit nie, kan God ons nie vergewe nie. Hy wil hê ons moet vergifnis vra, sodat ons vrygespreek kan word.

 

Here Jesus, help my om elke dag my sonde voor U te bely. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.