Dagstukkies met CLF 5 Mei 2020

Mei 5, 2020

Hoop vir sondaars

“Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom” (Jesaja 53:6)

Elke mens op aarde doen soms die verkeerde dinge, selfs die mees getroue Christen of predi­kant is vol sonde. Daar was net een mens op aarde wat nooit gesondig het nie, en dit was Jesus.

Alhoewel ons so vol sonde is, het God ons tog baie lief. Hy het sy seun Jesus aarde toe gestuur om vir ons sondes te kom sterf. Deurdat Jesus aan die kruis gesterf het, kan ons sondes vergewe word en kan ons die ewige lewe kry.

Ons sal miskien nog in die plek van ’n goeie vriend sterf, maar nooit vir ’n skelm nie. Dit het Jesus gedoen. Hy het vir sondaars soos ek en jy kom sterf.

Sê sommer nou vir Jesus dankie dat Hy al jou sondes op Hom geneem het.

 

Here Jesus, ek besef nie elke dag wat U vir my gedoen het nie. Help my om my lewe lank daarvoor dankbaar te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.