Dagstukkies met CLF 5 Augustus 2020

Augustus 5, 2020

Sorg vir ander

“En die Koning sal hulle antwoord: Dit verseker Ek julle: vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matteus 25:40)

Wanneer die oordeelsdag aanbreek, sal Jesus die mense in twee groepe verdeel. Die Bybel sê Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. Sommige sal Hy aanneem, en die ander van hom wegstuur.

Jesus sê in ons teksvers dat as ons goed was vir arm en eenvoudige mense, is dit so goed asof ons vir Hom goed was. Op daardie oordeelsdag sal God weet wie opregte liefde gehad het. Dit is die mense wat God in die hemel wil hê.

Probeer om elke dag vir mense rondom jou iets goeds te doen. Dan doen jy God se wil.

 

My Vader in die hemel, help my om elke dag iets goeds vir my naaste te doen. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.