Dagstukkies met CLF 5 April 2020

April 5, 2020

Loop die reguit pad

“Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit… moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers” (Spreuke 4:25,27)

 

In die wêreld waarin ons leef is daar baie mense wat ’n skewe en ’n skelm pad loop. Hulle loop al met die donker afdraaipaadjies langs. Want hulle kruip weg vir ander mense, hulle lê ander mense voor, hulle loop nie die eerlike, reguit pad, vir almal om te sien nie. Mense wat aanmekaar afdraaipaadjies vat verdwaal self later heeltemal.

Dit is die groot hartseer van ons land, dat daar soveel korrupsie en oneerlikheid is, soveel mense wat ander uitoorlê en verkul, selfs belangrike mense wat nie meer in die lig van die waarheid kan loop nie. Daarom is daar soveel armoede en ellende, kry so baie mense seer. En ja, uiteindelik kry hulle wat die verkeerde pad loop die seerste.

Die teksvers sê dat mense wat die regte, eerlike pad loop, die heel verste kom. Hulle verdwaal nie. Hulle is die mense met die grootste wysheid.

Wysheid is om dié pad te loop wat die Here vir ons in sy Woord wys, om koersvas daarop te loop, om reg voor jou uit te kyk en nie links of regs af te draai nie.

 

Here, help my om dié pad wat U my wys reguit te loop. Amen