Dagstukkies met CLF 4 Maart 2020
Maart 4, 2020
Sing vir God
“God is Koning oor die hele aarde; sing vir Hom ’n lied” (Psalm 47:8)
Die Bybel leer ons hoe om God te dien. Daar is baie maniere. Ons kan God dien deur te bid, deur Bybel te lees en kerk toe te gaan. Ons dien God ook deur gehoorsaam aan sy Woord te lewe en te doen wat Hy in sy Tien Gebooie van ons vra. Maar ons kan God ook dien deur te sing. En dis tog ’n lekker manier; ons hou mos van sing.
In hierdie Psalm word ons gevra om vir die Here te sing. Om saam lofliedere vir Hom te sing. Deur vir God te sing, erken ons dat Hy Koning is oor die hele aarde, dat Hy groot en goed is. Ons bewys ook ons respek aan God as ons tot sy eer sing.
Wanneer jy weer kerk toe gaan en daar word gesing, sing dan tot sy eer. Let op die woorde wat gesing word, en so kan jy God dien en prys. As ons liedere vir God sing, maak dit God se hart bly. Maar dit maak ook ons eie hart vol blydskap. Om lekker te sing, gee vir ons die vreugde en vrede van God
Dankie Here dat U vir my ’n stem gegee het. Help my om U te dien wanneer ek sing. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.