Dagstukkies met CLF 4 Julie 2020
Julie 4, 2020
Goeie en slegte vrugte
“Elke goeie boom dra tog goeie vrugte,
maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matteus 7:17)
Ons ken almal vrugtebome. Baie van ons werk op plase en ken verskillende soorte vrugtebome. Wanneer ons ’n vrugteboom goed versorg, dra daardie boom goeie en lekker vrugte.
Jesus gebruik die voorbeeld van vrugtebome om ons te waarsku teen mense wat voorgee dat hulle kinders van God is, maar dit nie regtig is nie. Jou optrede en hoe jy leef, is soos vrugte wat jy dra. Party mense sê dat hulle Christene is, maar hulle lewe wys dit nie. Hulle dra slegte vrugte.
Ek en jy moet soos goeie vrugtebome wees. Mense moet kan sien dat ons kinders van die Here is. As ons goeie vrugte dra, getuig ons vir God en daardeur kan ons mense vir God se koninkryk wen.
Lees gereeld jou Bybel, gaan kerk toe, bid en hou gereeld godsdiens, dan sal die Here jou help om goeie vrugte te dra.
Here, help my om goeie vrugte te dra, sodat ek ’n voorbeeld vir ander kan wees. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.