Dagstukkies met CLF 31 Maart 2020
Maart 31, 2020
Prys die Here
“Laat alles wat asem haal, die Here prys” (Psalm 150:6)
Hierdie is die laaste Psalm in die Bybel. Daar staan dat almal en alles wat asemhaal die Here moet prys. Wat beteken dit om iemand te prys? As jy goeie dinge van iemand sê, en as jy hou van wat hy of sy doen, dan prys jy daardie persoon. Elke mens hou daarvan om geprys te word, dit laat jou sommer goed voel.
Die Here is so goed vir ons, en Hy doen so baie, dat dit die regte ding is om Hom te prys. Hy sorg dat ons gesond bly, Hy gee kos en klere, maar bo alles vergewe Hy ons sondes. Daarom het Jesus aan die kruis gesterf sodat ons vir ewig saam met God in die hemel kan woon.
Probeer om elke dag raak te sien hoeveel goeie dinge ons uit God se hand ontvang. Maak dan tyd om Hom te prys, want al hierdie dinge ontvang ons ook sonder dat ons dit verdien. Dit maak die Here bly as ons Hom loof en prys.
Here, ek wil U met my hele hart prys. Dankie vir alles wat U vir my doen. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.