Dagstukkies met CLF 30 Maart 2020
Maart 30, 2020
God sorg vir die natuur
“Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien die reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit” (Psalm 147:8)
Niemand kan soos God wees nie. Hy het die aarde, see, son, maan en sterre gemaak. Die slimste mens op aarde sal dit nie regkry nie. Daarom sê ons God is almagtig. Hy het mag oor alles wat bestaan.
God het mag oor die natuur. Hy sorg vir reën sodat daar gras kan wees vir diere. Sonder reën sal ons as mense nie kan bestaan nie. Sonder reën sou ons nie kos gehad het om te eet nie. Daar sou ook geen lewe op aarde wees sonder reën nie.
As jy weer eendag sien hoe die reën val, sê dankie vir die Here. Ook as die gras ná die reën begin groei, weet dat dit alles van God af kom. So sorg God vir alles wat op aarde leef. Dit doen Hy omdat Hy ons so baie liefhet.
Dankie, Here, vir die reën. Gee asseblief reën in daardie gedeeltes van die land waar daar droogtes is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.