Dagstukkies met CLF 3 Mei 2020
Mei 3, 2020
Vrede by God
“Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here” (Jesaja 48:22)
Elke mens wil graag gelukkig en tevrede leef. Ons mag maar vir die goeie en mooi dinge in die lewe werk en bid. Dink net hoe lekker ons kon saamleef as almal die goeie en regte dinge gedoen het.
Nou is dit maar so dat die duiwel alles hier op aarde kom omkrap het. Hy sal sy bes doen om ons te verlei en weg van God af te kry. Want soms lyk dit ook vir ons of die sondaars ’n lekker lewe het. Hulle doen verkeerde dinge, maak soos hulle wil en steur hulle nie aan God se gebooie nie. En dit lyk asof dit goed gaan met hulle. Maar moenie dink hulle is gelukkige mense nie. Nee, hier diep in hulle harte is daar geen vrede nie.
Ons wat aan God behoort het gemoedsrus en vrede. Ons weet dat ons eendag vir ewig by God sal woon waar ons net vrede en vreugde sal ervaar.
Dierbare Here, dankie dat ek by U vrede kan vind. Help ook sondaars om vir U aan te neem. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.