Dagstukkies met CLF 3 Desember 2020
November 3, 2020
Ware rykdom
“As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees” (1 Timoteus 6:8)
In hierdie wêreld van ons is daar baie ryk mense. Hulle kan koop net wat hulle wil hê, hulle kan vakansie gaan hou waar hulle wil, en kan die lewe geniet. Vir ons wat nie baie het nie, lyk dit so lekker.
In vandag se woord waarsku Paulus vir Timoteus (en vir ons) dat rykdom op aarde niks beteken nie. Die Bybel leer vir ons dat daar mense is wat geld najaag en dan van die geloof afdwaal. Sulke geldgierige mense maak op hul rykdom staat en dink hulle het God nie nodig nie. Met hul geld kan hulle alles regmaak.
Maar dit is nie waar nie. Sonder God in ons lewe is ons baie arm. Geld kan nie vir ons ’n plek in die hemel koop nie. Alles wat ons besit, kom van die Here af. Hy sorg dat sy kinders elke dag genoeg het.
Daarom moet ek en jy, al is ons nie ryk nie, tevrede wees met wat ons het. Ons rykdom is by God in die hemel.
Vergewe my, Here, as ek aardse rykdom begeer en vergeet hoe ryk ek is in U. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.