Dagstukkies met CLF 3 April 2020
April 3, 2020
Aanvaar God se straf
“My seun, aanvaar die straf wat van die Here af kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie”
(Spreuke 3:11)
Geen mens wil graag op sy foute gewys word nie. Ons almal doen soms verkeerde dinge. Ons oortree die landswette of God se wet. Wanneer iemand ons teregwys of straf, soek ons gou ’n verskoning. Ons wil nie leer uit ons foute nie.
Die Bybel vertel ons in hierdie gedeelte dat God ons sonde straf. Dit doen Hy op baie maniere. Hy laat toe dat ons slegte dinge oor onsself bring. Hy laat ons swaarkry en seerkry. Daardeur wys die Here ons tereg. Hy wil dat ons sal leer uit ons foute. Daarom staan hier: “Want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ’n vader doen met sy seun”.
Wanneer die Here ons dan straf en teregwys omdat ons verkeerd opgetree het, moet ons dit aanvaar. Ons moet nie opstandig raak nie. Gaan liewer op jou knieë, vra die Here om jou te vergewe. Sy genade is groot. Hy vergewe.
Maar, leer dan ook uit jou foute…
Dankie dat U my so liefhet, Here. Vergewe my sondes en leer my deur u straf en teregwysing. Amen.