Dagstukkies met CLF 29 April 2020

April 29, 2020

Hoe groot is God?

“Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep?” (Jesaja 40:26)

 

Baie keer het ek al gewonder wat God alles kan doen. Ons lees in die Bybel dat God alles kan doen. Maar met my menslike verstand wonder ek nog steeds hoe groot God werklik is.

Gelukkig het God vir ons ’n Bybel gegee waar ons die belangrikste antwoorde kan kry. In ons heel eerste dagstukkie het ons gesien dat God alles gemaak het. As ons na die aarde, die sterre, maan en son kyk, kan ons werklik besef hoe groot God is, en dat Hy alles kan doen. Wie anders kon die heelal gemaak het, so groot en wonderlik?

As ons die Bybel gereeld lees, sal ons agterkom dat daar maar net een God is wat alles kan doen. Teenoor God is alle ander afgode niks. Vra maar enige tyd vir God om vir jou iets te doen. Hy sal jou help, niks is te groot of te klein vir Hom nie.

Grote God, dankie dat ek nou besef hoe groot U is, en dat U alles kan doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.