Dagstukkies met CLF 28 Mei 2020
Mei 28, 2020
God roep ook vir jou
“Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel” (Amos 7:15)
Amos was ’n veeboer. Hy het sy skape opgepas en daarmee ’n lewe gemaak. God het hom ook geroep om die mense te waarsku, want hulle het verkeerde dinge gedoen. Arm mense is uitgebuit en onderdruk. Dit was teen God se wil, en daarom het God vir hom, as eenvoudige boer, gekies om sy boodskap te gaan verkondig.
Soos God vir Amos geroep het vir sy werk op aarde, so wil God ook vir my en jou gebruik. Dit maak nie saak watter werk ons doen nie, God wil ons gebruik. Die Here sal vir ons krag en wysheid gee, ons moet net gewillig wees.
God roep ons almal om vir Hom te werk. Dit is ’n voorreg, en ons kan dit doen net daar waar ons is.
Maak my gewillig Here, om vir U te werk. Dankie dat U my wil gebruik. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.