Dagstukkies Met CLF 28 Februarie 2020
Februarie 28, 2020
Ons land en sy mense
“Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is” (Psalm 33:12)
In die wêreld is daar baie nasies. Elke land het sy eie reëls en wette, sodat daar orde en vrede kan wees.
Daar is so baie nasies wat nie leef volgens God se wil nie. Hulle leiers ken nie die Here nie en regeer nie volgens Bybelse beginsels nie. Hulle vertrou net op hulle eie wysheid en mag. Hulle dink dat hulle met krag en geweld alles sal regkry. Hulle vertrou net op hulleself.
Maar die Here is sterker as al die nasies saam. Hy is die groot en magtige Koning van die hele wêreld. Al maak die nasies ook watter planne, die Here bly in beheer. Daarom is dit beter om op die Here te vertrou. Ons lees in hierdie Psalm dat die Here sal sorg vir die land en die mense wat op Hom alleen vertrou, wat Hom as hulle Koning aanvaar.
Ons moet elke dag vir ons leiers bid. Ons moet vra dat die Heilige Gees hulle sal wys hoe om te regeer. As Suid-Afrika se leiers en al ons mense God dien en sy wil doen, sal dit goed gaan in hierdie mooi land van ons.
Ek bid, Here, dat U hierdie land van ons sal seën. Dankie vir leiers wat u kinders is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.