Dagstukkies met CLF 28 April 2020
April 28, 2020
Ons ewige Here
“Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig” (Jesaja 40:8)
Elke dag sien ons in die natuur die mooi bome, plante en blomme. Dis net jammer dat daardie mooi plante en blomme nie vir altyd hou nie. Na ’n tyd gaan die plante dood en die blomme verlep. So gaan dit ook maar met ons as mense. Mense word gebore, word groot, maar gaan uiteindelik maar weer dood.
So is dit maar in hierdie lewe op aarde. Niks bly vir ewig nie. Gelukkig is daar ’n God wat vir altyd daar sal wees. Solank die Here daar is, hoef ons ons oor niks te bekommer nie. As ons ons harte vir Hom oopstel, sy kinders word, sal ons ook vir ewig by Hom in die hemel gaan woon.
Niemand weet hoe dit in die hemel sal wees nie. Die Bybel vertel vir ons net so ’n bietjie daarvan, maar wat ons wel weet, is dat daar net vrede en liefde sal wees.
Ewige Here, dankie dat U vir altyd vir my daar is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.