Dagstukkies met CLF 27 Julie 2020
Julie 27, 2020
Julle is nie alleen nie
“Want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matteus 18:20)
Ons as mense wil so graag in beheer van ons lewe wees. Ons wil ons eie sake doen en self ons probleme oplos. Baie keer is ons te trots om ander mense te vra om te help. Ook vergeet ons dat ons ’n Here het wat ons so graag wil help.
In hierdie teks sê Jesus vir ons om in sy Naam dinge saam te doen, want dan is God by ons om te help. Ons moenie bang wees om vir ander mense te vra om saam te bid vir een of ander probleem nie.
As jy voel iets moet gedoen word aan ’n probleem, vra jou Christen vriende om saam oor die saak te bid. Of dit nou die land se probleme is, of in jou gemeente, of wat ook al, bid saam en God self sal daar wees om ’n oplossing te gee.
Here, dankie vir die versekering dat U daar sal wees as ek en my vriende of familie saam bid. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.