Dagstukkies met CLF 27 April 2020

April 27, 2020

 

Help die moedeloses

“Sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk. Moenie bang wees nie, julle God is hier’ ”

(Jesaja 35:4)

 

Daar is mense wie se voltydse werk dit is om ander te help, mense soos predikante, dokters en maatskaplike werkers. Maar ons kan nie verwag hulle moet alle mense help met probleme nie. Ons is elke dag by ons familie en vriende. Ons sal gou agterkom wie van hulle probleme het, of selfs moedeloos is.

As ons op mense ingestel is, soos God dit van ons verwag, sal ons gou sien wie hulp nodig het. Stel belang in die mense rondom jou. Vra hoe dit gaan en wees altyd vir hulle ’n vriend. Wanneer jy dan agterkom dat so iemand moedeloos is, kan jy luister en moed inpraat. Een van die beste maniere is om mekaar te herinner aan God se beloftes. Soos Jesaja die volk hier bemoedig: wees sterk, moenie bang wees nie, want God is hier.

 

Here Jesus, help my om dié wat in nood verkeer te kan raaksien. Dankie dat U by ons is. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.