Dagstukkies met CLF 26 Mei 2020

Mei 26, 2020

God sal jou bly liefhê

“Ek sal hulle ontrou genees, Ek sal hulle van harte liefhê”

(Hosea 14:5)

Ongeveer 700 jaar voor die geboorte van Jesus, was daar in Israel ’n hele reeks profete wat die mense gewaarsku het om hulle te bekeer. God self het vir hulle die opdrag gegee om die mense op hul sondes te wys.

Dit was ’n moeilike taak, want die mense was hardkoppig en wou nie luister nie, maar die Here gee nie moed op nie. Hy het baie profete gebruik om sy boodskap oor te dra aan die mense. Die Here het alle mense lief, daarom vergewe Hy en sal Hy hulle weer liefhê soos ons teksvers sê.

Vandag is daar ook baie predikante en mense wat deur God gebruik word. Bid elke dag vir hulle, want dit is ’n groot werk wat hulle doen.

Indien jyself teen die Here gesondig het, draai terug na Jesus toe, en die Here sal jou sonder verwyte weer aanneem en liefhê.

 

Dankie Here, dat U my steeds liefhet. Ek wil graag my sondes teenoor U bely. Amen.

 

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.