Dagstukkies met CLF 25 Junie 2020
Junie 25, 2020
Wees die minste
“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”
(Matteus 5:10)
Niemand wil graag gestraf word omdat hy of sy die regte ding gedoen het nie. Tog is daar baie mense wat jaloers of hatig is teenoor ander wat goeie en mooi dinge doen. Dit is ook ’n manier hoe die duiwel werk om mense weg van God af te kry.
In die ou tyd, en nou nog, word mense vervolg omdat hulle die Here dien. In sommige lande mag mense selfs nie die Bybel lees of sê dat hulle Christene is nie. Hulle word dan in die tronk gestop of kan self doodgemaak word.
Gelukkig sê Jesus dat as ons aan Hom vashou, al word ons gespot of vervolg, sal ons burgers van sy koninkryk wees. God ken elke mens se hart, en Hy sorg dat sy kinders eendag in die hemel kom en die ewige lewe kry.
My Vader in die hemel, gee asseblief vir my die krag om vervolging hier op aarde te kan verdra. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.