Dagstukkies met CLF 25 Julie 2020
Julie 25, 2020
Soos kindertjies
“En wie so ’n kindjie in my Naam ontvang,
ontvang My.” (Matteus 18:5)
Die dissipels het op ’n keer vir Jesus gevra wie die belangrikste in die koninkryk van God is. Jesus het ’n kindjie tussen hulle laat staan, en gesê dat elkeen wat homself so gering ag soos ’n kindjie is belangrik in die koninkryk van die hemel. Jesus het daarmee bedoel dat ons nie moet dink dat ons belangrik is nie. Ons weet dat ’n klein kindjie maar net ontvang, en eenvoudig glo wat aan hom vertel word.
So moet ek en jy ook wees. Nederig en klein voor God. Ons moet soos ’n kindjie aanvaar wat ons lees in die Bybel. Ons hoef nie baie vrae te vra oor hoe en waarom God dinge in die wêreld laat gebeur nie. Glo net soos ’n kind, en God sal vir ons eendag in die hemel alles verduidelik.
Here, help my om elke dag op U te vertrou soos ’n kindjie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.