Dagstukkies Met CLF 25 Februarie 2020
Februarie 25, 2020
Alles behoort aan die Here
“Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here”
(Psalm 24:1)
God het in die begin alles gemaak. Die aarde, son, maan, sterre en ook die mense en die diere was sy handewerk. Omdat God alles gemaak het, behoort alles aan Hom. Alles op die aarde behoort aan God.
Omdat God ook vir ons as mense gemaak het, is ons sy eiendom. En alles wat ons besit, kom ook van die Here af. Hy gee vir ons verstand en gesondheid om te kan werk, Hy gee vir ons die krag en wysheid om besittings bymekaar te kan maak. Die Here gee ook vir ons talente om daarmee te kan woeker. Sonder God sou ons niks kan doen nie.
Ons dink so baie keer dat ons besittings aan ons behoort. Nee, dit kom alles van God af. Ook ons besittings behoort eintlik aan God.
Ons moet elke dag dankbaar teenoor die Here wees vir dit wat Hy vir ons gee. Daarom moet ons ook bereid wees om weer ons besittings en ons lewe vir die Here te gee. En ons moet dit met mekaar deel, want daar is baie mense wat soveel minder as ons het.
Dankie Here, dat ek ook aan U kan behoort. Help my om altyd dankbaar te wees vir dit wat U vir my gee. Amen.
Dagstu
kkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.