Dagstukkies met CLF 25 April 2020
April 25, 2020
God wys die pad
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’. (Jesaja 30:21)
Om te verdwaal is nie lekker nie. Ons is op pad na ’n sekere plek, maar nou kry ons dit nie. Ons loop of ry op ’n verkeerde pad, heeltemal van koers af. Dan beland ons in die moeilikheid en moet ons maar liewers hulp gaan vra.
Baie van God se kinders dwaal ook soms van die regte pad af. In die Bybel lees ons byvoorbeeld van Dawid, Simson, en nog ander, wat die verkeerde pad gevat het. Hulle was opregte kinders van die Here, maar die duiwel het hulle verlei.
So gaan dit soms ook met ons. Ons dien die Here, doen sy wil, gaan kerk toe, lees die Bybel, maar partykeer lei die duiwel ons na die verkeerde dinge toe. Gelukkig het ons vir Jesus wat ons weer op die regte pad sal bring. As jy miskien eendag die verkeerde pad loop, onthou hierdie woorde in ons teksvers. God sal jou terugroep na die regte pad. Maar dan moet jy na God luister.
Eenkeer God se kind, altyd God se kind.
Here, as ek weer verdwaal, bring my asseblief weer terug na die regte pad. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.