Dagstukkies met CLF 24 Mei 2020
Mei 24, 2020
Daniël in die leeukuil
“Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig” (Daniël 6:27)
Ons ken almal die geskiedenis van Daniël toe hy in die leeukuil gegooi is. In daardie tyd was Darius die koning. Hy het vir Daniël aangestel om na sy sake om te sien. Omdat Daniël so goed in sy werk was, was die ander amptenare jaloers op hom en het probeer om hom in onguns by die koning te bring. Hulle kon niks teen Daniël kry nie, behalwe oor sy godsdiens.
Die amptenare het die koning oorreed om ’n wet te maak dat vir dertig dae lank niemand iets anders mag aanbid as die koning nie, want hulle het geweet dat Daniël sou weier. Dit het toe ook so gebeur, en Daniël is in die leeukuil gegooi.
Ons weet dat Daniël niks oorgekom het nie, want God het hom bewaar. Soos Daniël nie te skaam was om vir die Here te getuig nie, so moet ek en jy nie bang wees om te wys dat ons aan God behoort nie.
Help my Here, om nooit skaam te wees om vir U te getuig nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.