Dagstukkies Met CLF 24 Februarie 2020

Februarie 24, 2020

Die Here is ons Herder

“In u hande is ek veilig” (Psalm 23:4)

Psalm 23 is seker een van die mooiste Psalms in die Bybel. Lees gerus die hele Psalm as jy ’n tydjie het. In daardie dae is skape deur ’n herder opgepas. Die herder was heeltyd by sy skape. Hy het hulle na groen gras en lekker water toe geneem. Hy het hulle teen die wilde diere beskerm en hulle versorg.

Net soos ’n goeie herder sy skape oppas en beskerm, so is God ook ons herder. God pas ons op, Hy bewaar ons, Hy lei ons op die regte paaie. Al moet ons ook soms deur donker dieptes gaan, deur gevaarlike plekke en tye, God hou ons veilig. Hy gee ook vir ons elke dag nuwe krag om ons werk te kan doen.

As ons aan God gehoorsaam is, as ons agter Hom aanloop soos skape agter ’n herder, sal ons veilig wees. Dan sal ons niks kortkom nie. Ons sal vrede hê. Solank ons lewe sal ons God se goedheid en liefde ontvang.

Dierbare Here, dankie vir ’n man soos Dawid, wat vir ons so ’n mooi Psalm geskryf het. Wees asseblief ook my herder. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.