Dagstukkies met CLF 24 April 2020
April 24, 2020
God met ons
“Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem” (Jesaja 7:14)
In die tyd van Jesaja het die Israeliete baie swaar gekry. God het toe vir Jesaja geroep om ’n profeet te wees. Hy moes hulle waarsku teen hulle sondes. Alhoewel hulle ver van God af gelewe het, was God genadig, en het Jesaja ’n blye boodskap vir die volk gehad. God sal die volk van hulle vyande verlos. En daar sal ’n teken wees: ’n jong meisie sal ’n seun kry met die naam Immanuel, wat beteken God met ons.
Toe Jesus, die Seun van God, as mens gebore is, het God op ’n nuwe manier by ons kom woon. As ons Jesus as ons Verlosser aangeneem het, woon sy Heilige Gees in ons harte. Nou is Hy regtig altyd by ons. Dan hoef ek en jy geen vrees meer te hê nie, want God self sal ons bewaar teen al die bose dinge.
Baie dankie Here, dat Jesus en die Gees gekom het om elke dag by ons te wees. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.