Dagstukkies met CLF 23 Maart 2020
Maart 23, 2020
Werk gee vreugde
“Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra”
(Psalm 126:6)
Van die vroegste tye af was daar landbouers, boere wat ploeg en plant om vir mense en diere kos te voorsien. Om die grond voor te berei en die saad te saai is harde werk. Van soggens vroeg tot saans laat, in die warm son, die koue wind of in die reën. Swaar sakke moet gedra word. Dis asof hy die saad met trane saai.
Maar hy doen dit met die wete dat daar groot vreugde gaan wees as die oes ingesamel word. Wanneer hy eendag die gerwe dra, gaan daar vrolikheid wees. Dis mos lekker om kos huis toe te neem vir jou gesin, om die vrug van jou arbeid te geniet.
God beloon ons vir harde werk. Dit maak nie saak watter tipe werk ons doen nie, God sien ons swaarkry raak en sorg dan dat ons goed kan lewe. Om te kan werk is ’n groot voorreg.
Dankie Here, dat ek gesond is om te kan werk. Dankie dat ek elke dag iets het om te eet. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.