Dagstukkies met CLF 22 April 2020

April 22, 2020

Liefde tussen man en vrou

“Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word” (Hooglied 7:6)

 

Die boek Hooglied is ’n gedig, ’n lied oor die liefde tussen ’n man en vrou. Dit is die Here wat die man en vrou gemaak het om na mekaar te verlang, oor mekaar te droom en vir mekaar mooi te wees. Hierdie brandende liefde tussen man en vrou is ’n geskenk van die Here. Hy wil dat ons dit geniet. Daarom sing die digter oor hoe wonderlik en mooi die vrou van sy drome is. Ook die vrou vertel hoe aantreklik haar geliefde man vir haar is. In die nag verlang sy na hom.

Die liefde tussen man en vrou is nie altyd net maanskyn en rose nie. Daar is onge­lukkig ook misverstande en groot hartseer. Mooi liefdesver-houdinge breek soms stukkend.

Daarom is dit belangrik om te verstaan dat so ’n liefdesverhouding net tussen een man en een vrou kan wees, binne die huwelik waar hulle mekaar vertrou. Dit is ook belangrik om die regte lewensmaat te kies en op die regte manier met hom of haar te lewe. Nou hoe sal ons dit regkry? Daar is net een manier: gaan na die Here toe en vra Hom vir wysheid. Alleen Hy kan ons help om in ’n gelukkige liefdesverhouding te leef.

Here, wys vir my die regte persoon aan om mee te trou. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.