Dagstukkies Met CLF 21 Februarie 2020

Februarie 21, 2020

God het jou lief

“Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet” (Psalm 18:20)

Die Here was baie lief vir Dawid. Dawid het hierdie Psalm geskryf nadat die Here hom van sy vyande verlos het. In Dawid se lewe het hy baie vyande gehad wat hom wou doodmaak. Maar omdat Dawid ’n kind van die Here was en op God vertrou het, was die Here vir hom goed en baie lief. In die Bybel lees ons dat Dawid ’n man na God se hart was.

Vandag word ons lewens ook in gevaar gestel deur mense wat ons kwaad wil aandoen. Al waarop ons kan vertrou, is God. Hy het ons lief en sal ons altyd beskerm. Hy is ons Vader in die hemel en weet wat ons nodig het.

My Vader, baie dankie dat U my as u kind aangeneem het. Dankie dat U my so oneindig liefhet. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.