Dagstukkies met CLF 20 April 2020

April 20, 2020

’n Tyd vir alles

“Ek het gesien dat God aan die mense ’n taak gegee het om hom mee besig te hou.” (Prediker 3:10)

 

In Prediker 3 van vers 1 tot 8 lees ons dat daar vir elke ding ’n tyd is. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant en ’n tyd om plante uit te trek. Daar is ’n tyd om te lag en ’n tyd om te huil. So gaan die Prediker aan om oor baie sulke tye te skryf. Lees gerus Hoofstuk 3 wanneer jy ’n tydjie het.

God gee aan elkeen van ons iets om te doen hier op aarde. Hy wil hê ons moet vir sy Koninkryk werk. Ons het net ’n sekere aantal jare om te leef. Nou moet ons daar­die tyd so gebruik dat ons lewe sinvol sal wees. Ons moenie uitstel om ons hart vir die Here te gee nie. Die dag wanneer God ons kom haal, moenie onverwags wees nie. Ons moet gereed wees.

Sorg dat die tyd hier op aarde vir jou vreugdevol sal wees, omdat jy op die regte tyd vir Jesus gekies het.

Vader, help my om die tyd wat U my gee reg te gebruik. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.