Dagstukkies met CLF 2 Oktober 2020

Oktober 2, 2020

As God wil

“Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: ‘As God wil,

kom ek na julle toe terug’ ” (Handelinge 18:21)

Terwyl Paulus in Efese was, het hy besluit om na ander dorpe ook te gaan. Omdat die mense so baie van God se woord gehou het, wou hulle gehad het dat Paulus langer moes bly. Hy wou egter verder gaan, en het gesê dat as dit God se wil is, hy weer na hulle sou terugkom.

Elke dag neem ons besluite oor wat ons gaan doen, of waarheen ons wil gaan. Ons lewe is in God se hande, en Hy alleen weet wat die beste is vir ons. Daarom moet ons altyd verstaan dat die mens planne kan maak, maar ons planne is afhanklik van God. Ons moet vir die Here vra wat sy wil vir ons is, voor ons ’n besluit neem. Wanneer ons vir Hom vra wat die beste sal wees, sal Hy ons die regte pad laat loop.

Dierbare Here, ek gee my lewe oor in u hande. Help my om altyd u wil te doen. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.