Dagstukkies met CLF 2 April 2020

April 2, 2020

Wysheid teenoor dwaasheid

“Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies”

(Spreuke 2:16)

 

’n Wyse mens is iemand wat weet wat die regte pad is en dan daarop loop. ’n Wyse mens weet wat reg en billik en eerlik is, watter keuses om te maak, watter woorde om te sê en wanneer om dit te sê. Wysheid is iets wat die Here vir ons gee. Ons kan bid en vra dat Hy ons leer om verstandig te lewe. In sy Woord leer Hy ons die regte pad.

Hierdie wysheid van die Here se Woord help ons ook as die dwaasheid ons wil verlei en ompraat om die verkeerde pad te loop. Hier word die dwaasheid beskryf as ’n slegte vrou, ’n prostituut, wat ons met haar verleidelike praatjies wil ompraat om verkeerde dinge te doen. Dan beland ons op ’n pad wat na hartseer lei, en na die dood.

Egte wysheid is om altyd weer te vra na die wil van die Here – Hy self sal ons bewaar van die afdraaipaadjies wat na die verderf lei.

 

Dierbare Here, gee my asseblief die wysheid om die regte keuses te maak. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.